Kerkgeskiedenis

Gezina Sewendedag Adventiste Kerk

Heelwat voor Eloffsdal Advent Sentrum in die gedagtes van Sewendedag Adventiste lede van die Pretoria omgewing ontstaan het, het Sewendedag Adventiste hulle geloof beoefen en uitgeleef by Gezina Sewendedag Adventiste Kerk.

Untitled design(10).png

1936-2013

Gezina was die oudste Afrikaanse gemeente in Pretoria en is gestig in 1936. Die gemeente het ontstaan uit ‘n evangeliesasie poging wat Ler. Raubenheimer in die laat 1935 geloots het.

Vanaf 1936 tot 1952 het Gezina gemeente aanbid in die ‘Sons of England’ saal in Gezina. Gezina kerk (die saaltjie) was in 1952 gebou en voltooi. Dit was ‘n klein groepie gelowiges wat die fondament gelê het. Dit was harde werk gewees, want dit was ook baie “arm” jare in Suid-Afrika. Werk was baie skaars gewees, veral ‘n 5 dag werks week. Dit was eintlik ‘n geloofsdaad om daardie geboutjie op te rig.

Die gemeente het gegroei en op 23 November 1974 het die gemeente toe die Gezina kerk gebou ingewy en toegewy. Vanaf 1974 tot 2013 (39 Jaar).

Dit was nie maklik om afskeid te neem van daardie kerk op die hoek van Swemmer en 12de Laan nie!

Menige traan sal vloei as daar gedink word aan die jare wat verby is.

“Ons wens Gezina geluk met die groot en ruim perseel wat aangekoop is. Die Here seën u, met hierdie groot onderneming.” - Noordelike Konferensie

Om afskeid te neem

Om afskeid te neem is nooit vir die mens maklik nie. Dit wek emosies op wat moeilik verwerk word. Die woord “afskeid” beteken om vaarwel te sê aan iemand, of iets, wat vir jou persoonlik kosbaar is. Net soos elke mens ‘n ander of verskillende belewenis het van die lewe self, so sal ons ook verskillende emosies ervaar wanneer ons terug dink aan Gezina gemeente.

Die Skepper van alle goeie gawes het ook hierdie aanbiddingsplek vir soveel jare aan hierdie gemeente toevertrou. Hoeveel gebede, lofliedere en boodskappe het tussen hierdie mure weerklink? Hoeveel belydenisse en toewydings is daar nie gedoen nie?

Vriendskappe wat hier gesluit was, die lewensblyheid wat die gemeente hier as ‘n groep gelowiges ervaar het. Die seëninge wat so mildelik uitgestort is deur ons Hemelse Vader. Ons sal dit nooit vergeet nie, ons sal dit altyd onthou!


Eloffsdal Advent Sentrum

Dit was die Gezina gemeente se groot wens om na ‘n groter gebou te verhuis. Die Psalmis sê: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het, laat ons na die huis van die Here gaan” - Psalm 122:1.

Untitled design(12).png

Gestig in 2012

Alles het begin deur ‘n Wêreldkonferensie inisiatief, genaamd: Die Bemagtigde Kerkprogram (“The Empowered Church Program”). Die Gezina Gemeente het die program aangepak onder leiding van Leraar Carel van der Westhuizen. Hy het in sy kerkrade en evangelisasie uitreike die program bevorder. Sy oogmerk was om die gebedsgroep van die gemeente te versterk deur die Bemagtigde Gebedshandleiding (“Empowered Prayer Handbook”).

Drie groepe is gevorm onder die gemeentelede, wat opleiding ontvang het volgens die riglyne van die handleiding. Die eerste uitdaging was om te “volhard in die gebed en daarin te waak met danksegging” - Kol 4:2. Die besluit was geneem om regdeur die winter bidure te hou. Die eerste in 'n ononderbroke reeks bidure het in 2011 plaasgevind. 52 Woensdae van die jaar. Die mikpunt was, en is, om 10 jaar lank die program te volg.

Op die kerkraad agenda was die eerste punte van kommer oor die spasie in die kerkgebou genoteer. Die sitplekke was tydens Spesiale Sabbatte te min en die gebou was baie oud, wat gedurige onderhoud geverg het.

Dolf Smit, een van die gemeentelede, het opgemerk dat die kerkgebou op die hoek van 8ste Laan & Fred Nicholson op ‘n veiling verkoop gaan word. Dadelik was daar planne gemaak om op die paneel te registreer ten einde deel te neem aan die veiling om die kerk te koop. Dit het na ‘n onmoontlike hartsbegeerte gelyk, omdat Gezina Gemeente nie oor die nodige fondse beskik het nie.

Die veiling was betree sonder enige fondse.

Die Gezina Gemeente het ‘n baie groot gebedsaksie geloods tydens die veiling. ‘n Groep was saam geroep om by die Gezina kerk te bid. Groepe het ook tuis bymekaar gekom om te bid. Werkende gemeentelede het hulself afgesonder by hul werksplekke en in gebed getree. ‘n Gees van eensgesindheid het geheers.

Almal het gebid totdat die boodskap ontvang was dat die bod op Gezina Gemeente toegeslaan is.