Bedieninge



Baanbrekers | Saterdae/Sabbat

Eloffsdal klub vir avontuurlustige kinders maak deel uit van ‘n wêreldwye organisasie wat ryk is aan geskiedenis, ervaring, hulpbronne en passie vir kinders en die evangelie.

Ons ontmoet tydens skoolkwartale elke tweede week vir 2-3 ure by die kerkperseel, gaan kwartaalliks op uitstappies en kamp jaarliks saam met die doel om kinders aan God bekend te stel en hulle te lei na geestelike volwassenheid, groter algemene kennis en die ontwikkeling van handvaardighede en sosiale vaardighede. Die hoofdoel is om die kinders toe te rus as leiers en sendelinge met ‘n hart wat brand vir Jesus Christus hul persoonlike Verlosser.

“Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hullle jou te kenne gee… en laat die visse van die see jou vertel.” - “Kyk na die kraaie…” - Job 12:7, 8; Luk 12:24.

 

Biduur | Woensdae 19:00

Verhoudings skiet wortel in deurgaanse gesprekke met vriende, huweliksmaats en werk kollegas. Sonder tyd deurgebring in dialoog sal verhoudings verhonger en afsterf. God se oorspronklike ontwerp was, en bly, verhoudings. Verhoudings met mekaar en met Homself.

Eloffsdal Gemeente se biduur is ‘n kragtige ontmoeting met God in gesprek. Hier kry gemeentelede versterking in die middel van die week vir die take wat voorlê. Om met God in gesprek te tree beteken om ‘n verhouding met Jesus Christus te kweek wat jou hele lewenswandel verander in diensbaarheid en intreewerk. Die biduur fokus om ander mense op te dra na die troon van God deur hulle bekommernisse en lewenstryd voor die Meester se voete te werp.

By die biduur is enige persoon, van enige agtergrond, welkom. In gebed is eenheid en dit is waar die werklike krag van geloof lê. “Die krag wat bekom word deur gebed tot God, sal ons voorberei vir ons daaglikse pligte. Die versoekings wat ons daagliks aan blootgestel word maak gebed ‘n noodsaaklikheid… Wanneer ons omring word deur invloede wat dreig om ons weg van God te lei, moet ons bede om hulp en sterkte onvermoeid wees.” - Ellen White Messages to Young People, 248

 

Blomme

Die vrolikheid van blomme met hulle verskeidenheid kleure meestervol geskape deur die Skepper van die heelal en keurig gerangskik deur die fyn hande van ‘n vrou, kan enige droefgeestige persoon opbeur. Dit spreek van ‘n godsliefde wat uitvloei uit hande wat saam werk om die skepping tuis te bring vir die gemeentelede.

Die Blomme Koördineerder se taak strek wyer as net die saamvoeg van natuur elemente ten einde ‘n mooi eenheid te bewerkstellig. Die taak is uiteindelik om God se liefde voor te stel deur die natuur sodat elke aanskouing die toeskouer seën met hoop, vreugde, rustigheid en geloof in Jesus Christus.

Wanneer ons ‘n mooi tuin aanskou, met sy geopende kelke, laat ons onthou dat dit ons Vader se liefde uitbeeld. Soos ons die variasie in kleurtinte van die blomme aanskou en hulle delikate geur inasem, laat ons aan die woorde dink - “Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie… As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle.” - Lukas 12:27 - 28

 

Diakens & Diakonesse

Diensbaarheid is die hart en siel van Jesus Christus se liggaam - die kerk. Dit is die ongesiene handelinge van die hardwerkende diakens en diakonesse wat die ritmiese pols van die hart aan die klop hou. Daarsonder sal die liggaam verswak en soekende siele ly. Die diakens & diakonesse se opdrag is om die lig van die kerk te laat brand deur verskeie take te verrig wat ander as vanselfsprekend neem.

Het u al opgemerk hoe die koel buite lug u hare effens streel wanneer u in die kerk sit? Dit is te danke aan die diakens & diakonesse wat soggens vroeg hulle tuistes verlaat om die vensters van die kerk te gaan oopmaak. Dit is onmoontlik om al die verskeie take op te noem wat aan die groep toevertrou word.

“Die aanstelling van die oorspronklike sewe diakens om verantwoordelikheid te neem oor spesiale werke was ‘n groot seën vir die kerk. Hierdie amptenare het noukeurig die behoeftes van gemeentelede oorweeg, asook die finansiële belang van die kerk behartig. Deur middel van hulle omsigtige bestuursvernuf en goddelike voorbeeld was hulle ‘n kritieke bystand vir mede ampsdraers, om die verskeie belange van die kerk saam te bind in ‘n verenigde geheel.” - Ellen White Acts of the Apostles, 89

 

Evangelisasie

Sedert die begin van menslike bestaan het godsmanne die Woord van God deur ware verhale en persoonlike ervarings aan toehoorders meegedeel. Hierdie proses van verbale oorlewering het nog nooit verander nie.

Ontwikkeling op tegnologiese gebied stel Eloffsdal Advent Sentrum in staat om Jesus Christus tydloos aan siele voor te stel deur verbaal die betroubare inhoud uit God se Woord digitaal oor te lewer. Die tegnologiese ontwikkeling van DVDs en CDs verseker spoed en akkuraatheid wanneer evangelisasie pogings plaasvind. Hierdie mediums stel individue in staat om die inhoud noukeurig te bestudeer om die waarheid daarin opgesluit volkome te ontdek deur middel van “play”, “pause” en “rewind” funksies. MP3 klank opnames kan versprei word soos herfsblare en luisteraars kan enige plek daarna luister, selfs in besige verkeer.

Die DVD Bediening bly geskoei daarop om die ewige evangelie suiwer “te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” - Openbaring 14:6

 

Enkellopendes

Menseverhoudings is kritiek vir gebalanseerde gesondheid by elke individu. Die mens se vermoë om in gesprek te tree spreek van die oorspronklike skeppingsbloudruk. Vanaf die aanvang van bestaan, nog voor Adam was, het die Vader in heilige dialoog met die Seun getree. ‘n Intrinsieke proses om Jesus Christus toe te rus vir sy skeppingswerk en mediasie bediening.

Getroudes, bestaande uit man en vrou, is God se ideaal om psigiese gesondheid te bevorder. As hartverskeurende nagevolg van die sonde is daar baie persone wat alleen verkeer. Die enkellopendes van Eloffsdal verseker dat alle ongetroudes dieselfde psigiese gesondheid geniet deur in gemaklike en liefdevolle verbintenis met mekaar te tree. Hieruit spruit lewenslange, vrugtevolle en hegte vriendskappe voort.

“Deur sosiale aangeleenthede word kennisse gevorm en vriendskappe gesmee wat ‘n hartseenheid en atmosfeer van liefde tot gevolg het wat aangenaam is in die oë van die hemele.” - Ellen White My Life Today, 209

 

Gesondheid

Jesus Christus se bediening onder die samelewing het merendeels wonderwerke van genesing ingesluit. Daar is niemand wat ‘n breër kennis oor die liggaam beskik as die Skepper van die menslike biologie nie. Alhoewel Sy bediening slegs oor 3 jaar gestrek het, is kosbare gesondheidspraktyke deur Hom toegepas en genoteer in Sy Woord.

'n Deeglike studie van Gods Woord is nodig om ‘n vol en gesonde lewe te verseker en te handhaaf. Die gesondheidsplan is beskikbaar aan elke individu, soos nagevors en herondek deur die vroeë pioniers van die Sewendedag Adventiste Kerk. Wanneer hierdie beginsels en konsepte deel word van ons leefwyse, sal die liggaam in harmonie funksioneer met die gees. Die geestelike welvaart van die individu is net so noodsaaklik soos genoegsame vars lug, rus, sonskyn en water ten einde 'n lewenskragtige balans te bereik.

Die kerk besef dat “al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra… sal julle voedsel wees” (Genesis 1:29) en poog om na hierdie ideaal te streef. Hedendaagse omstandighede laat dit dikwels nie toe nie en word ‘n vegetariese lewenswyse dus aanbeveel. Sien gerus ons gesondheidswinkel se webblad:

 

Gesinne

Die menslike voortbestaan en rypwording van individue tot volwassenheid vind plaas in gesinne onder die sorg van 'n liefdevolle ouerpaar. Dit is gesinne in hul eenvoudigste vorm, maar dit is soveel meer omdat God die heilige instelling van gesinslewe aanhou seën. Die geskenk van gesinslewe bou liefdesbande tussen verskillende persoonlikheidstipes, geslagte, denkwyses en ervarings van individue saamgebind vanaf kinderjare.

Gesinsbediening se oogmerk is om die verhoudings tussen gesinslede te bou deur eenheid in Jesus Christus. Net soos Hy die kindertjies na Hom toe geroep het as geestelike Vader, poog Eloffsdal Advent Sentrum om kindertjies na hul aardse ouers te lei vir vorming en groei.

Die gesin as geheel word gelei tot 'n gees van liefde vir hul medemens wat uiting vind in diensbaarheid en omgee vir ander wat minder bevoorreg is.

“Die huishouding moet beskou word as ‘n heilige omgewing, ‘n simbool van die hemel en ‘n spieël waarin self weerkaats word… ‘n Sterk gevoel van eienaarskap moet teenwoordig wees wat gemak, rustigheid en vertroue verseker.” - Ellen White Adventist Home, 177

 

Jeug

Geestelike vorming tydens jeugdige jare is ‘n uitdagende taak. Gedurende hierdie fase van menslike groei vind die finale afrondingswerk vir volwassenheid plaas. Belangrike lewensvrae ontstaan by jeugdiges wat alleen deur Bybelse ingewing beantwoord kan word. Gebed word benader met ‘n meer ondersoekende en oop gemoed as van te vore en dus speel ‘n akkurate begrip van God se karakter ‘n kritieke rol om ‘n suksesvolle verhouding met Christus te kweek.

Die begin van dieper studie in Gods Woord beteken dat regte studiemateriaal en -gidse benodig word. Nuwe vryhede wat toegestaan word deur ouers stel jeugdiges bloot aan onbekende tereine en indien hierdie sosiale vryhede nie deur gesonde mediums plaasvind nie, kan ernstige skade berokken word. Eloffsdal Jeug vestig die aandag op gesonde groei in verstandelike vermoëns en sosiale vryheid deur Jesus Christus die middelpunt van jeugdiges se lewens te maak.

“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.” - Psalm 119:9

 

Tieners

Menige beskou die tiener fase as die deurmekaar jare van fisieke en emosionele groei. Alhoewel dit so wil voorkom, is noodsaaklike ontwikkelingsprosesse besig om plaas te vind. Hierdie oorgang vanaf speel en ontdek na meer komplekse sosiale vorming, vereis gesonde sosiale aangeleenthede waarby tieners die verskillende geaardhede en persoonlikhede van maats kan ondek. Wanneer tieners aan Christosentriese sosiale byeenkomste deelneem, kan korrekte identiteitsvorming plaasvind by die individu.

Eloffsdal Advent Sentrum neem die ontwikkeling van tieners baie ernstig op omdat die tienerfase verder aan die fondasie van die individu se lewe bou. Verskeie sosiale geleenthede word geskep waarby tieners met hul maats kan saam groei en meer van Jesus Christus leer. Ouderdomsgerigte studie materiaal word aan tieners gebied om hulle nuwe belangstelling in vriendskappe met die Bybel as handleiding aan te pak. Hier leer hulle dat die belangrikste vriendskap, ‘n vriendskap met God is. ‘n Vriend wat hulle nooit sal verlaat nie en hulle oneindig lief het.

“Elkeen sal vriendskappe vind of maak. En in verhouding met die krag van die vriendskap, sal die hoeveelheid invloed wat vriende op mekaar uitoefen of vir goed of vir kwaad wees.” - Ellen White My Life Today, 209

 

Kinders

Die vreugde van kindwees lê na aan Eloffsdal Advent Sentrum se hart. ‘n Omgewing van veiligheid word geskep waar hulle met hartelus kan speel en die skepping van Jesus Christus kan ontdek. Omdat die verstand in die kinderjare die belangrikste en vinnigste groei ervaar, word Bybelstories en grondslag Christen waardes aan kinders geleer.

Christus het gesê “… Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koningkryk van God” (Lukas 18:16). Hierdie opdrag word gerig aan ouers en loop diep in Eloffsdal se are. Twee kinderprogramme word aangebied:

Vakansie Bybelskool
Vakansie Bybelskool leer kinders van die groot stryd tussen goed en kwaad op ‘n vlak wat vir hulle verstaanbaar is. Hulle leer van die Skepping van die aarde deur God en die profetiese boeke soos Daniël. Hier word Bybelverhale lewendig gemaak sodat kinders met ‘n realistiese en akkurate beeld van God gelaat word. Leer meer

Kinderkerk
Kinderkerk se fokus is gerig op fyner Bybelwaarhede wat soms uit die oog verloor word wanneer kinders geleer word. Temas soos rentmeesterskap oor jou talente en liggaam, verhouding met God deur gebed en diensbaarheid teenoor ander maatjies word op ‘n kindervriendelike vlak oorgedra.

 

Senior Burgers

Om soos Paulus die wedloop met oorgawe te voleindig verg ‘n sterk geloof in Jesus Christus en Sy kerk. Vriende se ondersteuning en bystand word krities namate ons ouer word en hoër eise gestel word aan liggaam en gees. Maar, dit beteken hoegenaamd nie dat senior burgers nutteloos die kerkbanke warm sit nie. Inteendeel, dit is hulle wat die kerk bedien en lei met jare se ondervinding en ervaring.

Vir hierdie groep word gesondheidsbediening ‘n groot steunpilaar. Hospitaal- en huisbesoeke deur familie, vriende en gemeentelede word hoog op prys gestel wat die gemoed versterk met 'n hoop op Jesus se wederkoms waar 'n vereniging met vriende en familie plaasvind. Eloffsdal Advent Sentrum se senior burgers herdefinieer “oud is nog nie koud” deur aktiewe diens in die gemeente en evangelisasie uitreikings.

“So vêr moontlik, laat grysaards met trae tred, wat toon dat hulle die graf nader, tussen vriende en in 'n bekende omgewing leef en woon. Laat hulle aanbid tussen mense wat hulle ken en lief het. Laat hulle versorg word deur liefdevolle en tere hande.” - Ellen White The Ministry of Healing, 204

 

Ouderlinge

Die bediening wat sekerlik die mees diverse diensbaarheid verg is die van ouderlinge. Hierdie lede, uitgekies deur die Heilige Gees, voorsien in ‘n verskeidenheid van geestelike behoeftes wat ontstaan onder gemeentelede en bedieninge. Afgesien van hul eie pligte as herders van die gemeentelede, word daar op hulle gesteun om leiding te verskaf en aan te vul by al die diverse bedieninge van die kerk. Jesus Christus met Sy onbaatsugtige diens en omgee vir die gevalle mensdom, se voorbeeld as “hoof ouderling” word nagevolg.

Eloffsdal Advent Sentrum se ouderlinge poog om in Christus se voetspore te volg deur onder andere huis- en hospitaalbesoeke, diens op kerkraad vergaderings en prediking. “Besige hande” is ‘n akkurate omskrywing vir hulle wat deurentyd arbei om die gemeente te stig en te rig.

“Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.” -
1 Timoteus 5:17

 

Musiek

God se Woord klink wyer as ses-en-sestig boeke meestervol gesinkopeer deur die Heilige Gees. Musiek stel Gods Woord sielsroepend voor aan enige bereidwillige luisteraar. Instrumentale spel sinvol gekomponeer, kan die siel na hoër gedagtes lei en die diepste hartsnare aanraak. Dit het nie net ‘n terapeutiese uitwerking op die hele liggaam nie, maar is ook perfek vir die oordra van Bybelwaarhede. Temas soos God se liefde kry ‘n nuwe dinamika wanneer dit liries aangebied word.

Eloffsdal Advent Sentrum glo in stemmige musiekprogramme en dus reël die musiekbediening ooreenkomstige geleenthede vir gemeentelede om by te woon. Om Jesus Christus op musikale wyse uit te beeld is altyd die oogmerk van Eloffsdal.

“Indien korrek toegepas,… word [musiek] ‘n kosbare geskenk van God, wat ontwerp is om gedagtes op te hef na hoër en edeler temas om die siel te inspireer en te verhef.” - Ellen White Education, 167

 

Ontspanning

Ontspanning behels meer as net die aktiwiteit van rus. In ons gespanne samelewing word hierdie basiese behoefte gereeld afgeskeep. Die aanvraag na hoër produksie en langer werkure put die liggaam en psige uit en verhoed ‘n kwaliteit lewenstandaard. Jesus Christus se taak om die samelewing van Sy tyd fisies te bedien het Hy nooit uit die oog verloor nie, maar van tyd tot tyd het Hy Sy dissipels aangemoedig om te ontspan van die daaglikse. Hierdie ontspanning het rustige dialoog met mekaar behels naby ‘n stroom of aan die oewers van Galilea. Alhoewel onstpanning dieselfde bly, is daar verskeie vorme wat dit kan aanneem.

Eloffsdal Advent Sentrum bied vele geleenthede vir gemeentelede om volgens Christus se voorbeeld te ontspan. Kuier en kampvuur aande vind gereeld plaas waar gemeentelede gesellig met mekaar verkeer. Gemeentekampe wat in die natuur geskied, roep lede tot stilstand, weg van die onophoudelike stadsrumoer. Staptogte en natuur besigtigingspadjies word gereeld bewandel deur lede om die liggaam, sowel as die verstand te voed.

“…Kom julle self in die eensaamheid na ’n verlate plek en rus ’n bietjie…” - Markus 6:31

 

Welsyn

Sedert menslike bestaan het menige menslike geluk probeer peil. Sommige beskou menslike geluk en lewensgehalte proporsioneel tot hulpbron beskikbaarheid wat in die basiese behoeftes van individue voorsien. Sosio-ekonomiese faktore, liggingsaangeleenthede en opvoedingsvlak bring skeiding in die welsyn van mense en lei daartoe dat ‘n verlaging in lewensgehalte plaasvind.

Dit is ons plig om in liefde na mekaar se welstand om te sien deur mekaar op te bou in die voorsiening van fisiese, geestelike en emosionele behoeftes. Geluk mag wees vir u om begeertes na te streef, maar vir ander is dit om net na hul familie om te sien of hulself te voed vir die dag. Geluk word eintlik gevind in diensbaarheid en gemeenskap met minder bevoorregtes soos die voorbeeld van Elía - “…daar het Ek aan ’n weduwee bevel gegee om jou te onderhou” - 1 Konings 17:9.

Eloffsdal Advent Sentrum antwoord op Jesus se roepstem “Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.” - Mattheus 25:35-36